8 dae gelede
Owerhede praat inwoners moed in
LUISTER MOOI: Inwoners is met belangrike tools toegerus.  ~ Keith Meyer

VAN WYKSDORP. – Die plaaslike polisie, verkeersdienste en maatskaplike dienste het kragte saamgesnoer en weerbaarheidshulp aan inwoners gebied.

Dit volg nadat die dorp onlangs gesteier het onder drie selfmoorde in drie weke.

AO Jannie Cedras, lt.kol. Pauline Kriel, die verkeershoof Stef Pietersen en dr. Lindie Bosman, ’n maatskaplike werker, het na die dorp gereis en die inwoners gaan support. Cedras het met inwoners die cops se seer gedeel toe hulle self ’n lid as gevolg van selfmoord verloor het.

Verskillend

“Daarom kan ons ons ervaring met julle deel. Ons moet ons bes doen dat dit nie weer met ons jeug gebeur nie.”

Bosman sê: “Trauma is deel van lewe. Ons almal ervaar dit verskillend.

“Elke mens is ’n diamant.

“Die dood van geliefdes bring ’n groot verlies. Skok verlam ons.

“Wat gaan die jeug deur? Daar is geen reëls by selfdood nie.”

Sy sê verder ons moet lewensfiks word en in geloof groei.

“God gaan jou nie bo jou kragte versoek nie. Respekteer die hartseer.

“Moenie dit as verskoning gebruik nie. Ons soek na antwoorde, maar kry dit nie.

Bosman sê om vir mekaar daar te wees, is om stil word in mekaar se teenwoordigheid. Wanneer ’n mens in die vallei van doodskaduwee kom, moet jy weet waar jou hulp vandaan kom.

Oorwin

Kriel het ook haar stryd teen kanker gedeel.

Sy sê: “Families van oorledenes, julle moet positief bly. Saam kan ons die struikelblokke oorwin.”

Pietersen het die jeug aangemoedig om op hul drome pleks van probleme te fokus.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters