7 maande gelede
Oupa sê kraggebrek eis amper kind
GEVAAR: Lewis Petersen sê hul huidige omstandighede het amper sy kleinkind se lewe gekos.  ~ Mpumi Kiva

OUDTSHOORN. – ’n Oupa sê die gebrek aan elektrisiteit het so hittete die lewe van sy kleinkind geëis.

Klein Chaney Petersen (5) het Maandag haar maag en hande by warm kole buite hul huis verbrand. Sy woon saam met haar familie in die GG-kamp in Bongolethu.

Chaney het na wat verneem word buite gespeel, oor die vuurwarm kole gestruikel en toe gebrand. Inwoners sê hulle soebat al die afgelope 20 jaar vir elektrisiteit en dat die gebrek aan krag lei tot beserings soos dié van Chaney.

Chaney se oupa Lewis Petersen sê sy kleinkind was besig om buite met maatjies te speel toe hy haar hoor huil.

“Dit was ’n pynlike experience toe ek buite kom en sien wat sy oorgekom het. As ons krag gehad het, sou dit nooit gebeur het nie.

“Ek kon darem vinnig optree en daardeur verseker dat sy nie erger brand nie,” sê hy.

Beloof

Die oupa sê daar is ’n groot nood vir elektrisiteit hier.

“As dit buite reën, dan kan ons nie vuurmaak vir kosmaak-doeleindes nie. Dis ’n struggle om elke dag hout in die bos bymekaar te maak. Dit lyk asof niemand worry oor ons lot nie.

“Ons is al hoeveel keer beloof dat elektrisiteit aangelê sal word, maar dit gebeur net nooit nie,” kla hy.

Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit is die GG-kamp en die Black Joint-plakkerskamp geoormerk om vroeg volgende jaar van informele strukture na formele woongebiede omskep te word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters