Verlede maand
Oues woeker met talente
spreuke-vroue: Dié groep senior burgers se hande staan vir niks verkeerd nie. Foto: KEITH MEYER  ~ 

AMALIËNSTEIN. – Hulle begin van voor af – net soos in die Bybel.

Die hande van hierdie groep vroue op wie selfs die Bybelboek Spreuke jaloers sou raak, staan vir niks verkeerd nie.

Boonop is hulle senior burgers wat miskien liewer by die huis sou wou sit en oud word.

“Aikona,” sak ant Jeanetta Daniels af.

Poppe

“Ons raak net oud van by die huis sit en niks doen nie. Ons kan ook nie net sit en kleinkinders grootmaak nie. Ons het mos ons beurt gehad.

“Ons socialise tog te lekker by Genesis. En ons hande sit nie stil nie.”

Die groep doen naaldwerk, brei poppe en bedryf ’n baie klein “inmaak­fabriekie” waar hulle veral vrugte inlê.

Maar hulle hoofdoel is om 67 komberse vir Madiba-dag te begin brei. En ook ’n kombers van 67 m lank!

Antie Maria Jantjies sê: “Ons sien uit na Dinsdae en Donderdae. Dis goed vir die gesondheid om ook ’n bietjie rond te spring. Dit help om die bloed laag te hou en die suiker ook.

“Vandat ek hier is, is my kop nie meer dronk nie. Ons kook ook die lekkerste kos vir mekaar.”

Die groep het intussen ook al uitgebrei na die nabygeleë plaas Volmoed se plaaswerkers.

Die groep benodig baie wol en ander lewensmiddele, asook hulp met vervoer van en na hulle plek van samekoms.

Skenkers word gevra om vir Jonathan Jantjies, die koördineerder, te skakel by 060 882 0017.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters