2 maande gelede
Oue kry pille én verskoning
Ouma Antjie Fourie se pille-probleem is nou opgelos. Foto: KEITH MEYER  ~ 

CALITZDORP. – Die plaas­like kliniek se tekort aan pille het eers ouma Antjie Fourie kopseer gegee.

Dit kom nadat sy uit die Oudtshoorn-hospitaal ontslaan is en glo ’n brief gekry het waarvolgens sy weer pille by die plaaslike kliniek moes kry as haar pille opraak.

Toe begin haar gesukkel oor daar nie van haar soort pille beskikbaar was by die kliniek nie.

Ouma Fourie het haar toe tot Son gewend.

Einde verlede week het ouma Antjie toe ’n skriftelike verskoning van die departement van gesondheid gekry.

In die brief skryf ene suster Van Zyl: “Aanvaar ons verskoning vir die ongerief. Ons beskou u klag as opbouende kritiek en het definitief ’n les daaruit geleer. Ons is bly ons kon die probleem oplos en dat u ons verskoning aanvaar.

“Die voorskrif was net ’n eenmalige uitreiking en ons kon nie weer daarop medikasie uitreik nie.”

Ouma Antjie sê: “Ek is bly die probleem is opgelos. Ek glo dat ek steeds goeie behandeling sal kry by die kliniek en dat hulle nie hierdie saak teen my sal hou nie.”

Vroeër het Nadia Ferreira, ’n woordvoerder van die departement van gesondheid, gesê: “Dit was ’n voorskrif wat nie ’n herhaling getoon het nie. Ons raai die publiek aan om met die bestuur oor probleme te praat.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters