9 maande gelede
Oud-raadslid kekkel in hof
Julian Merkeur is die voormalige onder-mayor. Foto: FACEBOOK  ~ 

RIVERSDAL. – Wat sal hom “merkeur”?

Vir ’n voormalige onderburgemeester om nou hof te loop as ’n vermeende hoenderdief, is ’n fall from grace.

Dís die skande waarin Julian­ Merkeur homself glo ingedruk het.

Sy vere is die afgelope week in die plaaslike landdroshof gepluk waar hy glad nie so kloekmoedig in die beskuldigdebank ingeskuif het nie.

Die klag teen hom is hoenderdiefstal.

En dis ook nie sommer enige free-range yard-hen en -haan wat verdwyn het nie.

Nee, dis skouhoenders waarmee hy in sy besit betrap is.

Om tegnies te raak – dis Belgiese swart Orpingtons wat baie werd is.

Die veediefstal- eenheid van Swellendam het ’n haan en twee henne in Merkeur se besit gekry.

Nogal met die ringetjies as uitkenmerke wat van hul oranje bene afgeknip is.

Volgens ’n ingeligte is die waarde van die gesteelde kekkelbekke sowat R7 000.

Die bron sê: “Die hoenders is ’n rare breed.”

Die ingeligte verklap die vermeende hoenderdief het die drie geveerdes gaan steel toe die baas van die plaas nie tuis was nie.

“Mense wat hom gesien het, sê hy het homself gaan help en toe weggery met drie van hulle,” sê die bron.

Merkeur het die afgelope week vlugtig in die landdroshof verskyn en is op waarskuwing vrygelaat.

Hy moet weer op 10 September verskyn.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, bevestig dat ’n saak van hoenderdiefstal ondersoek word.

’n Vroutjie in die dorp vertel die henne- en haan-storie het soos ’n veldbrand deur die dorp versprei en oral praat mense daarvan.

Merkeur is ’n eienaar van ’n dop-shop in dié dorp.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters