2 maande gelede
Oud-cops voor vir moord
foto ter illustrasie  ~ 

TWEE voormalige cops wat ’n man na bewering doodgeslaan en -geskop het, moet ná meer as vyf jaar in die hof antwoorde gee.

Dawid Voster (40) en Daniel Lingerveld (34) staan in die Oudtshoorn-streekhof tereg vir die moord op Frank Links.

Die voorval het op Vrydag 13 Januarie 2013 plaasgevind toe Links vir oproerige gedrag gearresteer is.

Die verhoor is verlede jaar weens die siekte van streeklanddros Mark van Wyngaardt verskeie kere uitgestel. Van Wyngaardt is in November dood en die saak is as ’n nuwe saak op die hofrol geplaas.

Die twee beskuldigdes het Maandag onskuldig gepleit en voer aan dat Links hom verset het teen arrestasie.

Volgens hulle pleitverduideliking was hulle was saam met drie ander beamptes by Links se woning.

Die slagoffer was sterk onder die invloed van drank of ander middels en baie aggressief.

Pepersproei is gebruik om hom tot bedaring te bring, sê hulle.

Hy het probeer weghardloop, oor ’n draad gespring en toe met sy kop op ’n klip geval.

Hy het ’n onbekende man en die cops met ’n mes aangeval en later ook sy kop teen ’n deur gestamp.

Volgens hulle was dit die oorsaak van sy dood.

Die eerste staatsgetuie, Rosaline Dam (50), het getuig sy het die betrokke Vrydagaand buite die Dysselsdorp-polisiestasie gestaan toe Voster en Lingerveld met ’n vangwa daar aankom.

Hulle het Links uitgelaai en hom tot by ’n kraan geneem waar hulle hom met ’n tuinslang natgespuit het.

Volgens haar het Links struikel-struikel geloop en is deur die twee beskuldigdes aan die skouers vasgehou.

Volgens haar het hy heeltemal normaal voorgekom.

Die verhoor duur voort.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters