3 maande gelede
Oud-amptenaar kry 10 jaar
 ~ 

OUDTSHOORN. – Hy is skuldig aan manslag nadat sy eks se nuwe vriend gelem is.

Denrick Carelsen (25) het tereggestaan op ’n klag van moord ná die dood van Wilfred Heinrich Davids op tweede Kersdag in 2017.

Davids is by die blinkhokke in Rose Valley dood.

Carelsen het ontken dat hy gemoor het. Hy het getuig dat Davids die betrokke dag die aggressor was.

Davids wou hom met ’n ketting slaan en hy het ’n mes uitgehaal en daarmee na hom gemik.

Hulle het begin stoei en op die grond geval, waarna Davids die noodlottige steekwond opgedoen het.

Streeklanddros JC Nortjé het in sy uitspraak gesê die hof kon nie bo redelike twyfel bevind dat die beskuldigde bedoel het om Davids dood te maak nie.

Vonnisoplegging vind eerskomende Maandag plaas

  • Richard Fransen (36), ’n voormalige persoonlike assistent van die munisipale bestuurder van Prins Albert, is vir tien jaar tronk toe gestuur vir verkragting.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging aan Fransen gesê dat die hof nie enige dwingende omstandighede kon vind om af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis nie.

Fransen het in April 2015 ’n 19-jarige hoërskoolleerder in sy huis verkrag.

Hy het haar hande en voete vasgebind, haar geblinddoek en ook ’n lap in haar mond gedruk sodat sy nie om hulp kon skree nie.

Skokkend

Volgens die landdros toon Fransen geen berou oor sy optrede nie. Hy het ná sy skuldigbevinding selfs ’n selfoonstemnota versprei in die gemeenskap waarin hy die klaagster se karakter verder aangetas het.

Die landdros het ook benadruk dat die verkragtingsyfer in die hof se bedieningsgebied skokkend hoog is en dat rape ’n kanker in die gemeenskap geword het.

Volgens die landdros het Fransen se slagoffer en haar ma hom vertrou, maar is hulle teleurgestel.

Volgens die landdros sal ’n opgeskorte of korrektiewe vonnis “skokkend onvanpas” wees. Hy het twee vorige veroordelings van aanranding en aanranding om ernstig te beseer.

’n Familielid van die beskuldigde het tydens die vonnisoplegging inmekaargesak en is huilend uit die hof gehelp.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters