2 maande gelede
Ou vas oor byna 500 kg dagga
sakke vol: Die Valke het beslag gelê op dié klomp dagga. FOTO verskaf  ~ 

DIE Valke het ’n man met dagga ter waarde van byna R1 miljoen in Sedgefield in die Suid-Kaap betrap.

Die 31-jarige Sicelo Samuel Sokaba (31) het dié week in die Knysna-landdroshof verskyn.

Hy is op Donderdag 28 Februarie­ gearresteer.

’n Valke-woordvoerder, kapt. Philani Nkwalase, sê Sokaba was op pad na George vanaf die Oos-Kaap toe die cops hom afgetrek het op die N2-snelweg.

Die Valke is deur misdaad­intelligensie, die Langeberg-honde-eenheid en die Eden cluster in die operasie ondersteun.

Nkwalase sê: “Hy (Sokaba) het ’n gehuurde voertuig gery wat met sowat 472 kg dagga gelaai was.

“Die dagga was in 17 sakke verpak en het ’n straatwaarde van nagenoeg R900 500.”

Sokaba sal na verwagting op Woensdag 13 Maart om borgtog aansoek doen.

Beroof

Intussen het die Valke se nasionale hoof, lt.genl. Godfrey Lebeya, die Kaapse hooggeregshof se beslissing verwelkom om beslag te lê op bates van vermeende misdadigers in twee aparte sake.

Een van die verdagtes, Fuzile Artwell Rala (39), was ’n driver vir die kontantvervoermaatskappy SBV.

Rala en sy kollegas is op 28 Desember 2015 by ’n vulstasie in die Promenade-winkelsentrum, Mitchells Plain, deur ’n ander verdagte genader waar hy en sy kollegas kontant in ’n OTM gelaai het.

Hulle is van kontant beroof. Rala en vier ander verdagtes is later gearresteer. Die Valke het op ’n Volkswagen Polo en sowat R290 000 kontant beslag gelê. Die Polo is opgeveil.

In ’n ander saak is vyf verdagtes op 13 Junie 2017 in Barrydale­ gearresteer oor gesteelde koperkabels.

Daar is op ’n Kia-vragmotor beslag gelê. Dit is op ’n veiling verkoop.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters