2 maande gelede
Ou vas ná hy sy kerk 'stil maak'
luther
Teiken: Luther-huis het al twee keer onder inbrekers deurgeloop.  ~ _KEITH MEYER

LADISMITH. – Die musiekinstrumente van charismatiese kerke is van die belangrikste items in die verkondiging van die evangelie.

Daarom beskou gelowiges die diefstal van dié instrumente in ’n inbraak laas Saterdag as ’n aanval op die stem van die kerk.

Talle kerke is die laaste tyd die teiken van diewe. Een kerk se klok en ’n ander se breekware en spieëls is vroeër gesteel.

Ontdek

Dié keer is daar by die Jubilee-gemeente ingebreek.

Past. Etienne Jonathan het laas Saterdag ontdek die kerk se instrumente ter waarde van R16 850 is gesteel.

’n Bron vertel: “Daar is blykbaar toegang verkry deur ’n deur wat die kerk aan ’n huis langsaan verbind.

“Die verdagte wat die instrumente gesteel het, het toe met die hulp van iemand se privaat vervoer die instrumente na Calitzdorp vervoer.

“Daar is dit glo aan ’n plaaslike pastoor verkwansel vir ’n skamele R4 000.”

Dawid Bothman, GPF-voorsitter, sê dit is tragies dat diewe kerke teiken.

Vreesloos

Bothman sê: “Hulle wil die kerk se stem stil maak in dié tyd dat daar teen die Covid-pandemie geveg word.

“Ons dank polisie­lede vir hul onbaatsugtige werk om diewe vreesloos aan te vat.”

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het by navraag gesê ’n man (43) wat ’n sleutel tot die kerk het, is gearresteer.

“Hy verskyn op 30 Augustus in die hof.

“Die gesteelde goedere is na Calitzdorp vervoer waar die instrumente toe vir R4 000 aan ’n ander pastoor verkoop is.

“Nog ’n moontlike arrestasie van ’n medepligtige word verwag,” het Pojie gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters