13 dae gelede
Ou skelm se pelle sê hy is onskuldig
Christopher Claassen het vir die soveelste keer as beskuldigde in die hof verskyn.  ~ Foto ter illustrasie

OUDTSHOORN. – Hy het klaar 21 vorige veroordelings.

Nou staan Christopher Claassen (44) weer tereg op aanklag van roof met verswarende omstandighede en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Claassen word aangekla daarvan dat hy Jullian Moos, ’n groentesmous van Dysselsdorp, van pampoene en R300 kontant beroof het nadat hy hom glo met ’n panga teen die wang gekap het.

Hy het op dieselfde dag na bewering ook vier keer met ’n byl na Robin Jacobs, ’n inwoner van Dysselsdorp, gekap.

Claassen pleit onskuldig.

Aangerand

Nadat die staat sy saak gesluit het, het die verdediging Maandag twee getuies, Warren Roman en Desmond Goliath, geroep wat die betrokke dag saam met Claassen was.

Albei het getuig dat Claassen nié die betrokke dag vir Moos of enigiemand anders beroof of aangerand het nie.

Volgens Roman was hy en Claassen, sy oom, besig om koeldrank te drink toe Moos daar aangekom het en geld by hom wou leen.

Hy het aan Moos gesê dat hy nie geld het nie en dat Claassen later vir Moos gesê het om te loop.

Hy kon nie presies verduidelik waar op sy erf hulle gesit het nie.

Gerook

Goliath het ook getuig dat hy die betrokke dag by Roman aangekom het, maar kon nie presies sê hoe laat dit was nie.

Op ’n vraag van Claassen se regsverteenwoordiger, adv. Shaun Ferreira, dat dit moontlik as gevolg van die dagga was, was sy antwoord ja.

Hy het erken dat hy ’n daggagebruiker is en daar gerook het.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het dit aan die twee gestel dat hulle hul getuienis aanpas om die beskuldigde te beskerm.

Slotbetoë is uitgestel tot 22 September. Claassen bly in aanhouding.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters