5 dae gelede
Ou in bedrogsaak moet wag vir bail
Dale Ronald Harmse (50) het onskuldig gepleit op klagte van bedrog, diefstal en geldwassery.  ~ Foto Verskaf

DIE aansoek om borgtog van ’n Gautenger wat ’n sakeman van Oudtshoorn glo uit meer as R500 000 bedrieg het, is in die Oudtshoorn-landdroshof aangehoor en uitgestel vir die staat om daarop te reageer.

Dale Ronald Harmse (50) staan tereg op klagte van bedrog, diefstal en geldwassery. Hy pleit onskuldig.

In ’n dokument van 27 bladsye vra sy regsverteenwoordiger, adv. Riaan Pienaar, die hof om borgtog toe te staan omdat dit in belang van geregtigheid is en Harmse van mening is dat hy nie skuldig bevind kan word nie.

Hy het die hof meegedeel hoewel Harmse verskeie vorige veroordelings vir diefstal en bedrog op sy rekord het, sal hy nie vlug nie.

Hy het ál die geld in sake waarin hy skuldig bevind is, aan die klaers terugbetaal en nooit weggebly van sy hofverskynings nie.

Hy vra voorts om vrygelaat te word omdat sy vrou en stiefseun vir wie hy sorg, nou geen inkomste het nie, aangesien sy bankrekeninge ook gevries is.

Waarskuwing

Volgens Pienaar sal Harmse getuig hy het hom nooit aan die klaer of enige ander persoon as ’n advokaat voorgestel nie.

Hy is nie meegedeel wie die staatsgetuies is nie en sal nie probeer om met hulle in kontak te kom nie.

Pienaar vra die hof om Harmse op waarskuwing vry te laat omdat hy nie toegang tot enige fondse van hom het nie. Hy wil aangaan met sy besigheid en sal die hofsaak bywoon.

Brandon Smith, staatsaanklaer, het die hof vir uitstel gevra omdat hy tyd nodig het om die aansoek te bestudeer.

Pienaar het hierteen beswaar aangeteken, maar landdros René Gerber het die versoek toegestaan en die saak tot 12 Maart uitgestel, want dit is die eerste beskikbare datum.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters