Verlede maand
Oorle oom se smile net weg
kners: Die verdwene valstande het ’n familie erg bedroef en onthuts gelaat. Foto ter illustrasie: MELINDA STUURMAN  ~ 

LADISMITH. – Die dag as selfs valstande voete kry, moet jy weet ...

Dis presies wat gebeur het toe Roy Smith (77), ’n bekende en geliefde inwoner van Nissen­ville, onlangs in die Alan Blyth-hospitaal gesterf het.

Chocco Abrahams, oom Roy se ontstelde seun, vertel: “Hei, man, toe my ma-hulle die lyk gaan haal, het hulle gesien dat sy stel waardevolle valstande dan nie in sy mond is nie.”

Gebel

Die Smith-familie was baie ontsteld en het ook die hospitaal gekontak. Dit was hulle wens dat hulle die tande darem net kry voordat Uncle Roy begrawe sou word.

’n Vriend van Smith sê: “Daai pragtige smile van Roy was sy trademark. Dit sal darem nie reg wees nie.

“Dit gebeur mos nie in ons geliefde hospitaal nie!”

Volgens Abrahams het hulle vele kere die hospitaal gebel oor die verdwene tande.

“Maar elke keer stuur hulle ons van bakboord na stuurboord. Ál wat ons wil hê, is dat hy met sy tande in begrawe moet word.”

Son het namens die familie ’n navraag oor die vermiste tande gestuur.

Nadia Ferreira, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê: “Ons vra die familie om verskoning. Die familie word aangeraai om die fasiliteitsbestuurder te kontak.”

Op die dag van die diens by die huis, knap voordat Smith ter aarde bestel sou word, het die hospitaal die tande gestuur.

Oom Roy kon darem toe die hiernamaals tog met sy mooi smile ingaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters