2 maande gelede
Onveilige vure is hul uitweg teen koue weer
Brrr-stryd: Hoe onveilig dit ook al mag wees, ghellieblikke is vir baie die enigste buffer teen die koue.  ~ Mpumi Kiva

GEORGE. – Inwoners van informele nedersettings buite George en Oudtshoorn sê hul battle is nie net teen Covid-19 nie, maar ook die uiterste koue van die winter.

Die koue en nat weerstoestande het baie mense gedwing om van waaghalsige metodes gebruik te maak om warm te bly.

Dit sluit die maak van ghellieblik-vure in om hulself binne die shack warm te maak, ten spyte van die risiko van versmoring wat altyd met dié metode gepaardgaan. Lekkende dakke worry inwoners nét so, veral wanneer hul slaapplekke nat word en furniture beskadig word.

Gegrawe

Inwoners van Hopeville naby Oudtshoorn en Gushi Ndoda buite George het selfs slote buite hul shacks gegrawe in die hoop dat dít die reënwater van hul woonplek sal weglei.

Hierdie areas gaan swaar gebuk onder werkloosheid en ’n gebrek aan elektrisiteit en sanitasie.

Nolonwabo Tshaza (33) bly saam met haar babadogtertjie van ses maande oud en sê dat haar gesin elke dag hout moet bymekaarmaak om hul tweeslaapkamer-shack warm te hou.

“Dit is koud en daar moet elke dag uitgegaan word om hout te kry. Dis wat ons moet doen om te survive.

“Ek is bang dat mense flu gaan kry, want ons moet alles hier deel,” het sy gesê.

Magda Simon (46) bly al langer as ses jaar lank in Hopeville en sê hoewel ghellieblikke groot gevare inhou, is dit haar enigste opsie.

Sy het gesê: “Dit is gevaarlik as daar nie ’n ogie oor daai blikkie gehou word nie, maar baie van ons kan nie hierdie koue weerstoestande verduur nie.

“Ek vrees die pandemie meer en onder hierdie toestande is dit moeilik om seker te maak dat ons nie verkoue of iets ergers kry nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters