Verlede maand
Ongeluk tref ou twee keer
MISDAAD: ’n Arme man het Saterdagaand sommer twee mesaanvalle van rowers oorleef. FOTO TER ILLUSTRASIE  ~ 

GEORGE. – ’n Man het nie net een nie, maar twee mesaanvalle oorleef.

Dít alles het hom Saterdagaand getref.

In die eerste voorval het Lazola Kopi van die werk af teruggekeer toe twee verdagtes gewapen met messe hom op die Nelson Mandela-voetbrug aangeval het.

Hy het ’n meswond aan die kant van sy kop opgedoen en moes sy Nike-tekkies, selfoon en cash aan die aanvallers gee. Hulle het toe die hasepad gekies.

Net ’n paar meter weg van die brug af het die noodlot weer met Kopi vuil gespeel. Dié keer het drie verdagtes op hom toegesak.

Gewapen met pangas en messe het dié stel skelms hom in die arm gelem.

Dít alles net vir die baadjie wat hy aangehad het, en vir sy broek se belt van volstruisleer.

’n Motoris het die bebloede Kopi gered toe hy sien in watter toestand hy is.

’n Familielid van Kopi, Nobuzwe Fanele, vertel dat die arme ou die laaste tyd deur ’n baie moeilike tyd gegaan het.

Hy het pas weer werk gekry as chef nadat hy aan die begin van die lockdown sy job as ’n hotel-chef verloor het.

Ondersoek

’n Gemeenskapsleier, Mthandazo Veli, is diep vies oor die aanvalle en sê hulle kla hoeka lankal oor die voetbrug waar daar so baie onheil uitbroei.

Thembalethu se cops ondersoek die voorvalle.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters