Verlede maand
Nóg ’n vrou vermoor op Ladismith
Lizel Isaacs  ~ Foto Verskaf

LADISMITH. – Die trane oor Elouise de Waal se moord verlede week is nog nie eens droog nie, toe tref nóg ’n moordskok die dorp.

Sondagoggend het die dorp gegons toe die halfnaakte lyk van die saggeaarde Lizel Isaacs (38) in die Waterkloof-pad gevind is.

Die polisie het dadelik ’n soektog begin om Isaacs se moordenaar(s) op te spoor.

’n Bron vertel: “Daar is aanvanklik gedink die verdagtes is dalk buitewerkers in die dorp. Die meisie is blykbaar vroeër in hul geselskap by die ladies bar gesien.

“Maar dit was toe nie hulle nie. Dit was die CCTV-kameras van ’n besigheid in die dorp wat daartoe gelei het dat ’n verdagte nog die Sondagmiddag aangekeer is.

Opgehang

“Bloed is in sy voertuig gekry. Daar word beweer Isaacs is eers op ’n sportveld daar naby verkrag, waarna haar liggaam in Waterkloof gedump is.

“Die saak het toe nóg ’n wending geneem toe die jong man homself Sondagnag in die polisieselle opgehang het.”

De Waal se man het haar verlede week in die nek gesteek, waarna sy in haar ma se yard beswyk het.

Sers. Chris Spies het by navraag oor Isaacs gesê: “Die 38-jarige se lyk is halfnaak in die Waterkloof-pad gevind.

“Sy is op die toneel dood verklaar. ’n Verdagte (28) is Sondag gearresteer. Die lyk van die verdagte is later in die polisieselle gevind waar hy homself opgehang het.

“Die ondersoek duur voort en Opod ondersoek die voorval in die selle.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters