4 dae gelede
Nog 2 vroue sterf by Voëlklip
Voëlklip-ongeluk
Twee vroue is die naweek dood nadat hul voertuig oor Voëlklip getuimel het.  ~ Verskaf

TWEE bejaarde vroue is dood nadat hul voertuig Saterdagaand by Voëlklip in Heroldsbaai naby George oor ’n krans getuimel het.

Volgens sers. Christoper Spies, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 18:45 plaasgevind. “ ’n Lid van die publiek het die polisie in kennis gestel dat ’n wit Mazda oor die krans getuimel het.”

Spies sê die nooddienste is dadelik na die toneel ontplooi.

’n Soek-en-reddingsoperasie is begin.

Die lyke van die vroue (albei 75) is om 03:50 uit die voertuig gehaal. Die George-polisie het ’n geregtelike nadoodse ondersoek geopen.

Vuurwapens

“ ’n Lykskouing sal vandeesweek gehou word om die oorsaak van dood vas te stel.”

Spies sê twee vuurwapens is ook in die voertuig gevind. Dit sal vir ballistiese toetse gestuur word.

Die voertuig is Sondag net ná 10:00 van die rotse ver­wyder.

Dit is die tweede aangemelde voorval vandeesmaand by die uitkykpunt. Vroeg in Februarie is ’n vrou en haar dogtertjie dood nadat hul voertuig in die water beland het. Die vrou se seun het die ongeluk oorleef.

Luidens berigte het die vrou oor die krans gery en die voorval was nie ’n ongeluk nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters