13 dae gelede
Niggie, cop sê ou erken hy moor
die ma: Merilen “Hetta” Corne­lius by die hof waar haar kind se pa teregstaan.Foto’s: GARNETT WICOMB  ~ 

OUDTSHOORN. – Die verhoor van Ronvigon Wildeman, wat teregstaan vir die moord op sy baba, is gister in die rondgaande hof voortgesit.

Wildeman van Haarlem staan ook tereg op klagte van kwaadwillige saak­beskadiging, die verontagsaming van ’n beskermingsbevel en alternatiewelik aanranding.

Geskok

Woensdag het hofgangers se oë gerek toe ’n massiewe klip – die moordwapen – as bewysstuk by die hof ingedien is. Nóg getuies het getuig die beskuldigde het aan hulle gesê hy’t sy kind doodgemaak. Dit het gevolg ná die kruisondervraging van die kind se ma, Merilen “Hetta” Cornelius.

Cornelius se niggie Joslyn­ Delport het getuig sy het Wildeman die betrokke middag langs die pad gekry.

Delport sê: “Hy het sy kop vasgehou en gelyk soos iemand wat baie geskok is en aan my gesê dat hy sy kind doodgemaak het.”

Volgens haar kon sy nie ruik of hy alkohol gebruik het nie. Sy sê Wildeman het nugter voorgekom.

Volgens Wildeman se regsverteenwoordiger, adv. Leandra Adams, sal hy dit ontken omdat hy Delport nie vertrou nie en nooit sulke belangrike inligting ten opsigte van Cornelius en die kind aan haar sou vertel nie.

“Ek is in die hof om die waarheid te praat. Ek het drie kinders vir wie ek baie lief is. Ek kan nie vir leuens tronk toe gaan nie,” het Delport op die regter se vraag hieroor geantwoord.

AO Nicholas Simkin van die Uniondale-polisie het getuig Wildeman het hom die aand omstreeks 20:00 gestop en meegedeel dat hy op pad is na die polisie om hom oor te gee omdat hy sy kind doodgemaak het.

Volgens hom het Wildeman ’n sak klere by hom gehad. Hy het wel na drank geruik, maar hy het normaal gestap­.

Verklaring

Adams het dit aan Simkin gestel dis vreemd dat dié mededeling van die kind se dood nie in sy verklaring verskyn nie.

Volgens hom neem hy gewoonlik ’n kort verklaring af waarna speurders ’n waarskuwingsverklaring afneem. Volgens Adams sal Wildeman ook dié mede­deling ontken.

Die saak dien voor regter Parker. Adv. Lenro Badenhorst verskyn vir die staat.

Die saak duur voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters