Verlede maand
Net 5 jaar vir dood
Sergio Jonkers  ~ Foto Verskaf

“VYF jaar tronkstraf vir moord? Dis ’n skande!”

Só het Georgina Jantjies (52) van Buffeljagsrivier gesê nadat haar dogter se killer gister tot vyf jaar gevonnis is.

Jantjies se dogter, Fransio­nette (23), is in November 2018 deur haar verlangse neef vermoor.

Sy was drie dae vermis voordat haar lyk op 11 November 2018 gevind is.

Fransionette se dogtertjie was vyf toe sy vermoor is. Die kind is nou ses en woon by Jantjies, haar ouma.

Uitwys

Dié neef, Sergio Jonkers, het met sy inhegtenisname erken dat hy vir Fransio­nette met ’n scarf verwurg het ná ’n gestry oor dwelms.

Hy het ook gaan uitwys waar hy en sy medebeskuldigde, Aldred Hendricks, haar lyk gaan dump het.

Verlede jaar in Desember het hy skuldig gepleit op strafbare manslag en dwarsboming van die gereg deurdat hy Fransionette se lyk gaan dump het. Hy is daarvolgens skuldig bevind. Hendricks is net skuldig bevind op dwarsboming van die gereg omdat hy vir Jonkers gehelp het om haar lyk te dump.

Fransionette Jantjies (23)

Die twee het gister in die landdroshof in Swellendam verskyn.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolg, sê vir die moord is Jonkers tot vyf jaar gevonnis.

“Hy het ’n jaar tronkstraf vir die tweede klag teen hom gekry, maar die straf word saam met dié van moord uitgedien. Hendricks is vir ’n jaar tronk toe gestuur.”

Die familie van die vermoorde mamma beweer dat Jonkers met ’n attitude by die hof ingekom het. “ ’n Mens kon sien hy’t geweet hy gaan nie ’n swaar straf kry nie. Ons het nogtans nie vyf jaar verwag nie. Die ergste is dat hy nie eens die volle vyf jaar sal sit nie.

“Ons is baie ontevrede. Die regstelsel het my kind gefaal, want dit is nie justice nie.”

Jantjies het versoek dat die staat teen die vonnis en uitspraak appelleer.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters