Verlede maand
’n Kragboks is ouma se droom
KLEINE WENS: Ouma Dina Wagner wys haar buite-kombuis. Sy het nie krag in haar huisie nie.  ~ Keith Meyer

DIÉ ouma droom nie van ’n skielike magic cure vir die virus nie.

Ook nie dat die lockdown iets van die verlede moet wees nie. Haar drome is kleiner en meer prakties.

Ouma Dina Wagner van Die Vlak op die plaas St. Helena het net een wens voor sy haar “oë die dag toemaak”.

Wanneer hierdie pensioenaris haar mond oopmaak, maak dit die hart week.

Sy sê: “Ek kom deur baie dinge. Eers het my ou modderhuis op my ingeval. Die huis was tussen die boer se wingerde en toe moes ek uit.

“Toe kry ek hierdie huis hier op Die Vlak.

“Maar al die mense wat hier rondom my bly, het almal krag in hul huise.

Vuur

“Met TV’s en yskaste. Maar ek het nie, want hier is nie ’n kragboks in die huis nie.

“Ai, as ek net ’n kragboks het voor ek die dag die lewe verlaat.

“Ek moet maar buite vuur maak as ek net ’n koppie koffie wil maak.”

Volgens haar seun Jakob Wagner het van die barmhartige Samaritane rondom hulle vir sy ma krag gegee met ’n lead uit hul eie huise.

Sy kla: “Maar van die ander mense het die musipaal gaan sê en toe moes ons maar weer die krag met die lead afsit.”

Daar is vasgestel dat die plaaslike munisipaliteit krag aan die huise daar verskaf. Wagner sal moet aansoek doen by die munisipaliteit en betaal vir die boks.

Lesers wat dalk ouma Dina se wens wil help vervul, kan die gemeenskapsleier Kaki Willemse by 061 147 3721 bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters