2 maande gelede
Munisipaliteit is ’n boelie, kla inwoners
MOEDELOOS: Anna Abrahams sê hul krag word veral naweke geblok.  ~ Keith Meyer

VIR baie inwoners van Kannaland was die laaste weke maar ’n donker tyd.

Dis veral diegene wat deernishulp van die regering kry wie se krag geblok is.

Anna Abrahams vra: “Hoekom moet die munisipaliteit altyd ons arm mense se krag op ’n naweek blok? Dan sit jy die hele naweek sonder krag.

“As dit in die week was, kon ’n mens nog gaan geld leen het om jou krag weer aan te sit. Dis hoe die raad ons boelie.”

Volgens Abrahams het sy R100 gaan betaal.

“Toe soek die misipaal (sic) nóg R200. Ek is ’n AllPayer.

“Waar moet ek daai tyd nog R200 kry? Die politieke mense moet maar verby my hou hierie stemdag.”

Jacob Willemse, ’n gemeenskapsleier, sê: “Persone wat kwalifiseer vir deernishulp, moet ’n R0-rekening kry.

“Hul dienste word deur die staat aan die raad betaal.

Opdok

“Hulle koop dus net krag. So, hoe kan dit geblok word? En waarom kry hierdie mense, soos byvoorbeeld die Barkhuizens wat deernisgevalle is, ’n rekening van R16 986,35?”

Felicity Gysman kla: “Hier is ’n gestremde persoon in die huis. Ons kan nie sonder krag nie.

“Ek weet ek moet betaal, maar hoekom op ’n Vrydag ons koopkrag blok? My buurvrou moes R1 200 opdok voor hulle die krag unblock.”

Die kantoor van Roland Butler, waarnemende munisipale bestuurder, het ’n uittreksel van die beleid aangestuur: “Die subsidie geld soos volg: water – slegs die eerste 6 kF, elektrisiteit – slegs die eerste 50 kWh. Enige oorskryding, moet deur die eienaar betaal word. Op erfbelasting, vullisverwydering en riooldienste is die subsidie 100%.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters