DIE dood van twee leerders van dieselfde skool het Mosselbaai in rou gedompel.
Die twee onverwante voorvalle het binne 24 uur van mekaar plaasgevind.
Ivan Kronenberg, skoolhoof van Hillcrest, bevestig in ’n voice note aan ouers die tragiese gebeure.
Die
16-jarige Michaela Booysen is Sondag omstreeks 02:40 in Aslapark
vermoor toe drie mans haar en ’n vriend na bewering in Dywilisstraat
aangeval het.
Haar 24-jarige vriend het betyds ontsnap en is nie in die voorval beseer nie.
Maar Michaela is blykbaar met ’n piksteel teen die kop geslaan.
Volgens ’n bron wou die aanvallers haar van haar swart Nike- tekkies beroof. Die luisgatte het daarna weggehardloop.
’n
Betroubare bron noem ook: “Michaela se ma is ook vyf jaar gelede deur
haar pa met ’n byl vermoor. Hy dien tans tronkstraf uit.
“Michaela het by haar ouma gewoon. Haar jonger boetie is ook in die tronk vir diefstal.”
In die ander voorval is Khuselo Ndanda (16) weens verskeie messteekwonde aan sy bolyf dood.
Die seun was Maandag by ’n bakleiery by die skool betrokke.
Volgens
Kronenberg was daar laas maand in die eksamenlokaal ’n onderonsie
tussen Ndanda en die verdagtes. Hy is tóé ook gelem, maar het nie die
voorval aangemeld nie.
Kronenberg voeg by twee leerders is vir die moord gearresteer.
“As voorsorgmaatreël sal wagte vir die volgende twee weke by die skool wees.”
Al
kon niemand dit bevestig nie, bespiegel mense dat die messtekery
verband hou met ’n messteekvoorval vroeër vanjaar by die Sekondêre Skool
Indwe.

Khusela Ndanda
Son Verskaf
Harry Levendal, mayor van Mosselbaai, het albei moorde skerp veroordeel.
Oortreders
“Dié dade deur misdadige elemente wat jong en weerlose vroue en kinders in ons gemeenskap teiken, is skokkend,” sê hy.
Levendal
het ’n beroep op die polisie gedoen om alles moontlik te doen om die
oortreders op te spoor en hulle te laat boet vir die afskuwelike dade.
Die
voorvalle het talle inwoners van die kusdorpe aan die praat en laat die
kollig opnuut op misdaad, bendeverwante geweld en dwelms val.
Op
Facebook vra inwoners ook waarom soveel dranklisensies in die gebied
toegestaan word, aangesien dit nou in ’n dwelm- en dronknes ontaard wat
skoolkinders teiken.