Verlede maand
Moordverdagte wil nou bail hê
Clodine Nuys (22)  ~ Foto Verskaf

DIE MAN wat hof loop vir die moord op die jong bibliotekaresse van Groot-Brak, soek bail.

Russel Ayford (24) het gister in die hof in Groot-Brakrivier verskyn vir die moord op Clodine Nuys (22). Maar vir sy eie veiligheid sal hy nie meer in dié hof verskyn nie.

Volgens hofgangers het Ayford in die beskuldigdebank gelag en dit het die gemeenskap van Groot-Brak upset. “Die mense het hom lelike goed toegesnou,” het Nuys se pa, Booi Jansen, gesê.

Jansen sê die klein hofsaal kan sowat 20 mense in die galery vat.

“Daai kamer was volgepak. Buite het ook mense gewag.”

Nuys se lyk is verlede Dinsdag gevind in Jonkersberg, waar sy gewerk het.

Sy is oorspronklik van Groot-Brakrivier, maar woon die afgelope twee jaar in Jonkersberg.

Ayford verskyn vandag in die Mosselbaai-hof. Hy het gister aangedui hy wil regshulp hê. Hy sal na verwagting vandag daarvoor aansoek doen.

Sy formele borg­tog-aansoek sal eers Dinsdag 25 Februarie aangehoor word.

Volgens Jansen sal hulle nie vandag se hofverrigtinge bywoon nie.

“Maar wanneer sy borgtogaansoek gehoor word, sal ons daar wees. Daar is mense wat beoog om ’n petisie in te handig om die hof te vra om nie borgtog toe te staan nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters