13 dae gelede
Moord ‘nie beplan’
In die hof: Justice Mooi, Maggie Titus, Natasha Stuurman en Masithembe January gister in die beskuldigdebank.  ~ Garnett Wicomb

OUDTSHOORN. – Sy het uit haar bed gespring toe sy iemand hoor roep: “Mammie, Daddy!”

Sy het na haar man se slaapkamer gegaan met die woorde: “Here, Preston, hoor jy dan nie die kind roep nie?”

“Dit is toe dat my oog op hom val en ek sien die kamer is nie in ’n regte toestand nie.

“Ek sien toe die wasgoedmandjie staan nie waar dit altyd staan nie en Preston lê op sy gesig tussen die twee beddens.”

Sy het hardop geskree en teruggehardloop na haar jongste dogter, Amoré, wat met haar hande in die lug gelê het.

Só het Magdaleen “Maggie” Titus (42), vrou van die vermoorde soldaat Preston Titus, gister getuig in die saak teen haar en haar drie medebeskuldigdes, Natasha Stuurman (38), Masithembe January (23) en Justice Mooi (30).

Titus en haar medebeskuldigdes word van moord met voorbedagte rade en regsverydeling aangekla.

Sy het breedvoerig getuig oor haar ontmoetings met Mooi en January.

Sy het erken daar was in ’n stadium ’n verhouding tussen haar en January.

Besig

Sy en Preston was 18 jaar getroud. Twee dogters, Penelope en Amoré, is uit die huwelik gebore.

Sy het ná die moord op haar man geen kontak met Amoré gehad nie omdat sy ’n staatsgetuie sou wees.

Sy was die dag van die moord, 1 Desember 2017, baie besig met reëlings vir ’n ANC-konferensie wat sy die volgende dag in Worcester moes bywoon.

Toe sy die aand tuis kom, het sy en Amoré die kos geëet wat haar man gemaak het.

Haar dogter is bed toe, waarna sy en Preston nog ’n ruk in die sitkamer gesit en oor die naweek gesels het.

Sy sou die volgende oggend vroeg na Worcester vertrek, terwyl haar man daardie Sondag vir ’n werk event na Pretoria sou gaan.

“My man wou later gaan slaap, terwyl ek nog saam met hom wou kuier. Hy vra my toe om vir hom die waaier te bring.”

Volgens haar het hulle nie in een kamer geslaap nie oor haar man baie gesnork en met oop vensters geslaap het.

Sy het ook getuig dat sy en haar man se tablets, haar skootrekenaar, selfoon, horlosie en eerste troupand die aand gesteel en dit nooit teruggevind is nie.

Oor geld wat sy glo deur iemand anders by Pep inbetaal het, het sy getuig sy’t eers binne die winkel agtergekom sy het nie haar ID by haar nie. Dit was nie geld vir Mooi om na Oudtshoorn te kom nie, maar vir haar suster se dogter. Sy kan nie die bedrag onthou nie.

Titus het teen die einde van haar getuienis ontken sy het die moord op haar man beplan soos Sixabiso Klip, haar voormalige motorbestuurder, getuig het.

Sy het ook ontken sy het Mooi gehuur of saam met hom die aand van 29 November 2017 na die Oudtshoorn-begraafplaas gery om Mooi daar te gaan haal.

Verder ontken sy sy kon dit bekostig om R30 000 aan Mooi te betaal.

Die saak dien voor regter Nolwazi Boqwana en gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters