2 maande gelede
Misdaad ’n kwessie in klein dorp
aasvoëls: Net een ATM in die dorp werk, en dis ’n magneet vir misdadigers.Foto: KEITH MEYER  ~ 

CALITZDORP. – Paniek heers tans hier omdat die inwoners geteister word deur inbrake, roof en diefstal.

Net een ATM in die dorp werk, en die inwoners is te bang om dit laat in die dag en ná sononder te gebruik.

’n Afgetrede politikus, Bob Reinecke, is onlangs beroof nadat hy dié ATM in die hoofstraat gebruik het.

Net daarna is die eienaar van ’n eetplek so met ’n mes gesteek dat behandeling in ’n hospitaal nodig was.

Huisbrake is ’n daaglikse verskynsel en bedelaars – laities en grootmense – val toeriste lastig.

Aangesien toeriste huiwer om in die hoofstraat te stop, werk verskeie groepe nou saam om dié euwel te beveg.

Kla

’n Vergadering daaroor is gehou met ’n afvaardiging van genl. Oswald Reddy, die bevelvoerder van die Eden-polisiegroep.

’n Sekuriteitswag in die midde­dorp, Johnny Pockpas, kla: “Hulle pla toeriste en besteel die mense.”

’n Buurtwaglid meen daar is hopeloos te min polisie­beamptes per skof.

Hy kla: “Hoe op aarde kan drie lede – een in die aanklagkantoor en twee op patrollie – ’n gebied met ’n radius van 50 km effektief polisieer?

“Die misdadigers weet wanneer die vên op ’n plaas is, dan slaan hulle toe in die dorp en in Bergsig.

“Daar is ’n gebrek aan manne­krag, en daarmee moet op ’n hoë vlak gedeal word.”

  • Die polisie het nie ge­reageer op verskeie navrae van Son nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters