Verlede maand
Mes-ma kry 8 jaar vir moord op seun
Ellen Mentoor (39) is agt jaar tronkstraf opgelê vir die mesdood van haar seun.  ~ Foto ter illustrasie

OUDTSHOORN. – ’n Vrou van Bridgton wat haar 16-jarige seun ná ’n stryery oor kos doodgesteek het, is Woensdag in die plaaslike streekhof agt jaar tronkstraf vir moord opgelê.

Ellen Mentoor (39) se weergawe is dat sy uit noodweer opgetree het, maar streeklanddros Sylvia Mandla wou nie byt nie.

Mentoor se lewe was nie in gevaar nie. Mentoor het haar seun, Clinton, op 9 September 2017 met ’n mes in die nek gesteek. Hy is op die toneel dood.

Sy het getuig dat haar seun die betrokke dag by die huis gekom het en kos gesoek het toe sy besig was om haar baba te borsvoed.

Hulle het gestry, toe stoot hy haar weg en slaan haar met die vuis. Hy het haar ook geskop. Sy het daarna ’n mes op ’n kas gesien en wou hom net bang maak.

Die enigste staatsgetuie, Bianca Jacobs, halfsuster van die beskuldigde, het getuig dat Mentoor die mes uit ’n laai gehaal het en haar seun daarmee gesteek het.

Volgens haar het die slagoffer haar weggestoot nadat sy hom geklap het. Hy was ook ongelukkig omdat sy ma sy pa se klere aan die brand gesteek het

Brandon Smith, die staatsaanklaer, het betoog dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis is. Hy het toegegee dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van die minimum vonnis vir moord af te wyk.

Mentoor se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het op haar versoek die hof vir ’n opgeskorte vonnis gevra omdat sy na haar twee ander kinders wil kyk en oor sy ’n eerste oortreder is.

Volgens die landdros was dit egter nie ’n geval van lewe of dood nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters