9 dae gelede
Mes-aanrandingsaak uitgestel tot Maart
Hendrik Hintza (53) word van onder meer poging tot moord aangekla.  ~ Foto Verskaf

OUDTSHOORN. – Die saak teen ’n man van Dysselsdorp wat tereg staan op klagte van poging tot moord en aanranding om ernstig te beseer, is Vrydag, ná sy eie getuienis, in die plaaslike streekhof tot 1 Maart vir slotbetoë uitgestel.

Hendrik Hintza (53) word daarvan aangekla dat hy op 22 Augustus 2016 met ’n mes na Cheswayne Jackson (32) gemik en hom die volgende dag met ’n mes in die rug gesteek het.

Hintza pleit onskuldig en voer aan dat dit eintlik Jackson is wat hom probeer aanrand het. Jackson het getuig dat hul twee kinders die betrokke dag met mekaar baklei het en hy met Hintza daaroor wou praat.

Hulle het mekaar weer die volgende dag raakgeloop en volgens hom het Hintza hom met ’n mes in die rug gesteek nadat hy in ’n sloot geval het.

Ontken

Hintza het getuig dat hy en Jackson bure is. Elkeen het op sy eie erf gestaan toe hy oor die hek na Jackson gryp. Hy het misgegryp waarna Jackson gesê het hy gaan ’n byl haal.

Hy het ontken dat hy met ’n mes na Jackson gesteek het.

Wat die klag van poging tot moord betref, het Hintza getuig Jackson het hom die betrokke dag voor die bors gegryp toe hy van ’n winkel gekom het. In die gestoei het sy maatband en sakmes uit sy sak geval. Die klaer het toe weggehardloop, op ’n bouperseel stene opgetel en hom raakgegooi.

Hy ontken dat hy die klaer met ’n mes gesteek het.

Brandon Smith, die staatsaanklaer, het dit aan Hintza gestel dat twee getuies, Sylvia Sattle en Jason Gelant, gesien het hoe hy Jackson jaag.

Jackson het twee stene opgetel om homself te verdedig en verder gehardloop.

Dis toe dat hy glo in die sloot geval het waar Hintza hom met die mes gesteek het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters