16 dae gelede
Mense opgesaal met vuil kanaal
GEVAARLIK: ’n Kind speel in die vuil water van die kanaal.  ~ Mpumi Kiva

GEORGE. – Inwoners van die Canal-plakkerskamp naby Oudtshoorn word genoop om saans daggaplante te brand om die muskiete weg te hou.

Hulle bly langs ’n kanaal wat vol muskiete is.

Die plante word net voor slapenstyd gebrand.

Die water in die kanaal is baie vuil en mense kla ook dit laat hulle uitslaan.

Rou rioolwater vloei sedert die lockdown begin het in die kanaal af.

Inwoners sê die stank maak die lewe vir hulle ondraaglik.

Nog ’n probleem is dat kinders in die vuil kanaal speel.

Toe Son die kanaal besoek het, het kinders op ’n voorwerp in die groen water “gesurf”.

Mense kan ook nie net die probleemgebied vermy nie, want hulle moet oor die kanaal stap om werk toe te gaan.

’n Gemeenskapsleier, Jessie November, sê die kanaal is maande laas skoongemaak.

Sy sê hulle het ’n komitee wat ’n brief saamstel om die munisipaliteit in te lig.

“Ons sit eintlik al die afgelope jaar met die probleem, maar dit het tydens die lockdown erger geword.

“Ons kon dit nie aanmeld nie, want die kantore was toe.

“Ons sê ook vir die ouers om nie toe te laat dat hul kinders daar speel nie. Ons sal die saak verder met die munisipaliteit opvat.”

Nog ’n inwoner, Kholeka Kuthulela (43), sê haar sesjarige dogter het gereeld muskietbyte en die meisietjie kry ’n uitslag.

“Sy is siek van die uitslag en ek moes haar wegstuur na my familie om daar te bly.

“Ek brand ook dagga om my teen die muskiete te beskerm.”

Die munisipaliteit was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters