Verlede maand
Meester se dasse dien ander doel
MOOI: Meester Japie Coetzee wil die dasse wat hy in sy onderwysjare bymekaargemaak het, vir ’n goeie doel verkoop.  ~ Keith Meyer

OUDTSHOORN. – Altesaam 20 jaar gelede het kanker hom siek gehad.

Maar Japie Coetzee (74), ’n vegter soos min, het soos fynbos herrys om die lewe vir ander draagliker te maak.

“Meester Japie”, soos hy in die Suid-Kaap bekend staan, vertel: “My vrou, Jane, was my steunpilaar en vandag is ek ’n kanker-survivor.”

Hy vertel hy het daarna verskeie gemeenskapsprojekte, soos die struggle vir gestremdes, Toy for Joy, en dié vir die bejaardesentrum aangepak.

Maar tog sou kanker hierdie moderne samaritaan agtervolg en selfs in die Covid-tyd moes hy nog sterker staan.

“Verlede jaar, 21 September 2020, toe kom eis kanker my steunpilaar, Jane, met wie ek 49 jaar getroud was.

Wens

“Jane moes altyd by die kankerhuis in George oorbly as sy vir behandeling gaan.

“Dit was haar wens om hierdie huis op te gradeer.

“Daarom is ek tans besig om fondse in te samel vir die kankerhuis, maar ek begin by myself en wil nou ál die goed wat in my garage staan, verkoop en die opbrengs aan die kankerhuis skenk.”

Items met groot sentimentele waarde, soos die geliefde naaimasjiene van oorlede antie Jane, gaan ook verkoop word.

Meester Japie, wat vir meer as 40 jaar ’n onderwyser was, wil nou daardie 40 jaar se honderde dasse verkoop.

Dit vind veral groot byval by kopers wat graag ’n aandenking van hierdie merkwaardige en onbaatsugtige man wil hê.

Belangstellendes kan Coetzee by 082 598 7273 bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters