6 dae gelede
Man voor vir moord op stiefpa kry bail
DOODGELEM: Johan White is na bewering deur sy stiefseun doodgesteek.  ~ Foto Verskaf

HEIDELBERG. – Die 22-jarige man wat na bewering sy stiefpa verlede Vrydag net ná 22:30 noodlottig gewond het, het Dinsdag vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn.

Hy het ook die vorige dag vlugtig verskyn en die saak is vir ’n borgtogaansoek tot gister uitgestel.

Die slagoffer, Johan White­ (45), ’n pa van drie kinders, is glo ná ’n stryery met die verdagte buite voor sy slaapkamervenster twee keer met ’n Okapi-knipmes in die linkerbors gesteek.

Die voorval het op ’n plaas in die gebied bekend as Die Plotte gebeur.

Volgens AO Alroy Wind­vogel, plaaslike polisiewoordvoerder, het van die familielede ’n stryery buite gehoor.

Grootgemaak

Hy noem verder volgens een van die getuies het die verdagte ewe kalm die mes aan een van hulle gegee toe hulle buite op die toneel kom.

White se saamleefmaat, Selina Makamu, vertel hartseer hoewel White nie haar oudste seun, Sipho Makamu, se biologiese pa was nie, het White hom as sy eie aanvaar en grootgemaak.

“Ek is baie kwaad vir Sipho omdat hy so iets gedoen het” sê sy terwyl sy hulle jongste dogter, Sarafina, teen haar vasdruk.

Vrygelaat

Benewens Selina en Sarafina laat hy ook nog ’n dogter, een seun en ’n kleinkind agter.

Volgens AO Windvogel ondersoek die cops ’n klag van moord.

Sipho (22) is op gratis borgtog vrygelaat en gewaarsku om weer op 4 Mei in die hof te verskyn.

Hy is vrygelaat aangesien hy geen vorige kriminele oortredings teen hom het nie.

Hy het ook nie van die toneel probeer vlug ná die voorval nie en het sy volle samewerking tydens die ondersoek gegee.

Die hof meen hy hou ook nie ’n vlugrisiko in nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters