Verlede maand
Man skuldig aan nóg verkragtings
JONG VICTIMS: Johannes Jacobs het twee jong meisies verkrag.  ~ Foto terillustrasie: Son

’N LANG tronkstraf staar ’n Oudtshoorniet in die gesig nadat hy Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof aan verskeie misdrywe skuldig bevind is.

Johannes Jacobs (40) is skuldig bevind op drie aanklagte van kinderverkragting, een van die onsedelike aanranding van ’n minderjarige en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Jacobs het in 2019 by drie geleenthede twee 14-jarige meisies verkrag wat hom Boeta noem en met ’n derde ’n seksuele daad gepleeg. Hy het ook sy eie 17-jarige seun twee keer met ’n mes gesteek.

Jacobs het sy penis in twee van die kinders se mond gedruk­ en met hulle geslagsgemeenskap gehad.

Hy het een se mond met kleefband toegeplak en haar vaginaal en anaal verkrag.

In die ander voorval het Jacobs een van hulle gedwing om te ontklee, op die vloer te lê en haar bene oop te maak. Sy het egter daarin geslaag om uit sy kamertjie te hardloop en hy het vir sy broer geskree om haar te vang. Hy het alles ontken.

Oor die klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer, het Jacobs se seun getuig hy het sy pa, wat nie by hom en sy ma woon nie, die aand van 3 Oktober 2019 op Karoo Valley Farms gevra om sy hare te sny.

Sy pa het hom na die toilet geneem en sy hare met ’n lemmetjie begin skeer.

Kort daarna het hy ’n broodmes uitgehaal en hom een keer onderkant sy oor en een keer agter sy nek gesteek.

Hy het na sy ma geroep en toe sy die deur ooptrap, het hy uitgehardloop.

Jacobs het dié gebeure ook ontken en getuig dat sy seun beseer kon gewees het toe drie mans hom glo met ’n panga aangeval het.

Hy het sy seun daarvan beskuldig dat hy saam met sy ma slaap.

Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het betoog dat die kinders geen rede gehad het om Jacobs valslik te beskuldig nie.

Streeklanddros Daniel Boks het Jacobs se weergawe dat die kinders ’n storie teen hom opgemaak het as leuenagtig en vals verwerp.

Deuntjie

Jacobs is al by ’n vorige geleentheid ook aan verkragting skuldig bevind en tronkstraf van 10 jaar opgelê. Hy het aanvanklik dié vonnis ontken, maar tog later – ná ’n gesprek met sy regsverteenwoordiger – sy deuntjie verander.

Vonnisverrigtinge is op versoek van sy regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith, vir ’n korrektiewe verslag uitgestel tot 17 Maart.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters