Verlede maand
Man pleit skuldig ná klipgooiery
In orde
'n Man het skuldig gepleit  ~ Verskaf

’N MAN van Dysselsdorp is Donderdag in die Oudtshoorn-landdroshof ’n opgeskorte vonnis opgelê.

Dít volg nadat hy skuldig bevind is aan aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Hy het na bewering ’n familielid tydens ’n rusie oor ’n boedel met ’n klip gegooi en hom teen die oog getref.

Hillton Ferreira (49) het in ’n pleitverduideliking erken hy het Jaundre Soman op 22 April met ’n klip gegooi.

Ferreira erken ook hy het verkeerd opgetree.

Stryery

Hy is as eksekuteur van die boedel aangestel en het die betrokke dag na die huis gegaan om met Soman te praat.

’n Stryery het tussen die twee uitgebreek.

Hy het uit frustrasie ’n klip opgetel en in die rigting van Soman en sy vriende gegooi.

Die klip het Soman in die gesig getref.

Sy regsverteenwoordiger, Carla Wicomb, het die hof vir ’n opgeskorte vonnis gevra omdat Ferreira skuldig gepleit het en nie die hof se tyd gemors het nie.

Die staatsaanklaer, Elana Goosen, het die pleit aanvaar. Sy het wel bygevoeg dat die klaer sy oog kon verloor het.

Landdros Stephanie Stry­dom het vir vonnisoplegging in ag geneem dat Ferreira skuldig gepleit het en ook ’n vaste werk het.

Sy verstaan sy frustrasie, maar sê hy kan nie die reg in sy eie hande neem nie. Hy moet gestraf word.

Ferreira is ’n boete van R1 000 of ses maande gevangenisstraf opgelê wat in die geheel vir drie jaar opgeskort is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters