Verlede maand
Man oor masker gemoker
PAK SLAE: Zondile Mgotywa is oor sy eie masker bygedam.  ~ Mpumi Kiva

GEORGE. – ’n Konstruksiewerker is na bewering twee keer in die gesig geslaan nadat hy geweier het om sy masker aan ’n customer te leen wat ’n winkel wou binnegaan.

Twee mans het Zondile Mgotywa geskop en geslaan omdat hy nie sy masker aan een van hulle wou leen nie.

Mgotywa (36) het in die proses ligte beserings opgedoen en het ook ’n tand verloor.

Die twee aanvallers was glo op soek na werk toe hulle Mgotywa oor sy masker aangeval het.

Volgens Mgotywa het hy net by die winkel in Lawaaikamp uitgestap toe die mans hom nader.

“Een van hulle wou my masker leen, maar ek het geweier. Ons het toe begin stry en toe ek wegloop, het hulle my begin rondstoot.

“Ek het aan hulle gesê Covid-regulasies vereis dat ’n mens nie sonder ’n masker mag rondloop nie, maar hulle wou niks verstaan nie.

“Hulle het op my gevloek en begin toe om my aan te rand,” vertel ’n lyfseer en tandlose Mgotywa.

Ontstoke

Hy sê hy het na die winkel gegaan om vir hom ’n sap te gaan koop en die laaste ding wat hy verwag het, was om oor sy eie masker gebliksem te word.

“Gesigsmaskers is mos nie gemaak om met ander te deel nie,” het hy ontstoke gesê.

Die winkeleienaar, Amhed Abbat, sê niemand kom sy winkel binne sonder ’n masker nie.

“Hierdie ouens was op soek na werk en het kwaad geraak toe ek weier dat hulle my winkel sonder maskers binnekom.

“Daar is altyd mense wat die reëls wil verontagsaam,” verduidelik Abbat.

Die Conville-polisie sê om sonder ’n masker in die openbaar rond te loop, is ’n misdaad en ’n verbreking van die Rampbestuurswet.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters