24 dae gelede
Man kry vyf jaar vir diefstal
Selwyn Jordaan is tronkstraf opgelê.  ~ Foto Verskaf

OUDTSHOORN. – “Spaza­winkels in woonbuurte is tot groot voordeel van gemeenskappe omdat dit tot laat oopbly en die mense taxi-geld spaar oor hulle nie na groot winkels hoef te reis nie. Deur dié winkels te besteel, straf jy eintlik jou eie mense.”

Dít was Vrydag die woorde van streeklanddros Daniel Boks toe hy die 31-jarige Selwyn Jordaan aan winkeldiefstal skuldig bevind en ’n vonnis van vyf jaar gevangenisstraf opgelê het.

Roof

Jordaan het skuldig gepleit en sê in ’n pleitverduideliking die geld het in ’n plastiek­sakkie op die toonbank van ’n uitlander se winkel gelê. Daar was niemand in sig nie.

Jordaan het aanvanklik tereg gestaan op ’n klag van roof met verswarende omstandighede omdat hy glo die winkeleienaar met ’n mes gedreig het. Hy het agt vorige veroordelings.

Streeklanddros Boks het in sy vonnisoplegging gesê ’n totale opgeskorte vonnis sal onvanpas wees.

“Die beskuldigde moet ’n vonnis opgelê word wat homself en andere sal afskrik.

Peil

“Hy is ook nie ’n eerste oortreder nie en die misdaad is gepleeg slegs vier maande nadat hy vrygelaat is.

“Dit dui daarop dat vorige vonnisse nie die gewenste uitwerking gehad het nie.

“Die gemeenskap trek peil op die howe om gepaste vonnisse op te lê en sodat hulle nie nodig het om reg in eie hand te neem nie.”

Hy het in ag geneem dat Jordaan skuldig gepleit het asook die tydperk wat hy in aanhouding was.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters