Verlede maand
Man kry sewe jaar vir roof
court gavel
Julio Thomas is vir sewe jaar tronk toe gepos.  ~ 

’N MAN van Oudtshoorn is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof aan roof met verswarende omstandighede en diefstal vanuit ’n kar skuldig bevind en vir sewe jaar tronk toe gepos.

Julio Thomas (28) het Hilmar Stefanus op 13 Maart 2020 in Dassieweg, Bridgton, helder oordag met ’n byl gedreig en van sy selfoon beroof. Hy het ook op 16 Mei 2020 ’n CD-speler uit die motor van Ruduaan Hooghard gesteel.

Die staat het ’n derde klag van huisbraak, diefstal en roof met verswarende omstandighede teruggetrek.

Streeklanddros Daniel Boks het by vonnisoplegging gesê Thomas se optrede getuig van absolute wetteloosheid en barbaarsheid en hy toon nie ’n sweempie berou nie.

Volgens die landdros is dit onaanvaarbaar dat iemand helder oordag en ten aanskoue van lede van die publiek in ’n besige pad beroof word.

Verdedig

Die klaer, Stefanus, het gelukkig daarin geslaag om die byl by Thomas af te vat en het hom daarmee skrikgemaak. Thomas het toe weggehardloop.

“Hierdie hof kan nie toelaat dat Oudtshoorn se openbare strate in jagvelde van gewetenlose boewe ontaard nie. Die klaer moes homself verdedig en is gelukkig nie beseer nie, maar dit beteken nie die beskuldigde moet ligter gevonnis word nie.”

Hy het egter met die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, saamgestem dat daar wel omstandighede bestaan om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar gevangenisstraf.

Die hof het in ag geneem dat die klaer nie beseer is nie en dat Thomas lank verhoorafwagtend was.

Hy is nie ’n eerste oortreder nie en het reeds geleenthede gekry om buite die tronk te rehabiliteer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters