13 dae gelede
Man kry huisarres nadat hy kid optel en soen
Die 50-jarige man is onder huisarres geplaas.  ~ Foto ter illustrasie

’N MAN (50) wat ’n meisie (12) opgetel en op die mond gesoen het, is aan seksuele aanranding skuldig bevind.

Hy is Woensdag in die streekhof ’n opgeskorte vonnis opgelê en vir twee jaar onder huisarres geplaas.

Streeklanddros Daniel Boks het met die vonnisoplegging van Brian Wagenaar, ’n sekuriteitsbeampte van Oudtshoorn, gesê hy’t sy vertrouensposisie misbruik.

Die kind was in ’n dansgroep van Wagenaar se eksvrou en hulle was besig om toerusting weg te pak toe hy haar optel en op die mond soen.

Die landdros het sy kommer daaroor uitgespreek dat Wagenaar in sy getuienis ’n ander weergawe aan die korrektiewe beampte gegee het.

Respekteer

Boks sê: “Die beskuldigde het ’n gaping probeer vat en aan die beampte gesê hy het net die kind se nek gestreel.

“Ek gee u nog een kans.

“Respekteer kinders en as sekuriteitsbeampte het mense ook vertroue in u.”

Die landdros het bygevoeg hy glo nie die beskuldigde sal gelukkig wees as volwasse mans sy twee dogters soen nie.

Gideon Badenhorst, Wagenaar se lawyer, het die hof vir korrektiewe toesig gevra omdat hy ’n eerste oortreder is en berou toon.

Nadia Arnolds, staatsaanklaer, sê die voorval het ’n impak op die kind gehad; sy is baie skaam en hartseer oor die voorval.

Drank

Wagenaar is tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, asook korrektiewe toesig van 24 maande. Dit behels huisarres vir 24 uur per dag vir die volle tydperk behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.

Hy mag nie drank en dwelms gebruik nie en moet 16 uur ’n maand gratis gemeenskapswerk doen.

Die hof het ook gelas sy besonderhede moet in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem word en hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters