Verlede maand
Man gooi klippies, geen borg
 ~ 

BORGTOG is Woensdag in die Oudtshoorn-landdroshof aan ’n oudsoldaat geweier wat teregstaan op aanklagte van aanranding en opsetlike saakbeskadiging.

Hargeveas Olislager (44) word daarvan aangekla dat hy klippe na sy skoonma en niggie gegooi het en ’n traliehek van sy skoonma met klippe beskadig het.

Hy het die hof versoek om borgtog aan hom toe te staan omdat sy huis deur boosdoeners gevandaliseer word en hy sy familiebande wil herstel.

Volgens hom woon sy vrou en kinders tans by sy skoonma.

“Ek wil haar terugwen, want sy is nog baie lief vir my,” het Olislager getuig.

Hy wil ook ’n rolmodel vir sy seun wees en glo dit sal onregverdig wees indien die hof hom borgtog weier.

Die staatsaanklaer, Elana Goosen, en ondersoekbeampte, konst. Monica Fouché, het borgtog teengestaan omdat Olislager ’n geneigdheid toon om nie vir sy hofverskynings op te daag nie.

Kanse

Volgens Goosen is drie lasbriewe voorheen vir sy inhegtenisneming uitgereik omdat hy nie die hof bywoon nie.

“Hy het sy kanse gehad,” het sy gesê.

Sy prokureur, Brian Carelse, het die hof vir borgtog gevra omdat hy klein klippies na die klaers gegooi het. Hulle is nie beseer nie. Hy het sy les geleer.

Landdros Vaughen Shone het bevind die aanklagte teen Olislager is nie van die ernstigste wat daagliks op die hofrol is nie. Daar is ook geen be­wyse dat hy by verdere misdaad betrokke sal wees nie.

Hy was egter by drie geleenthede nie by die hof nie en het self getuig dat hy deur mense geterroriseer en seergemaak word in die vervalle huis waarin hy alleen woon.

Die hof is nie oortuig dat hy hom van sy bewyslas gekwyt het nie. Daar is ’n groot waarskynlikheid dat hy nie hof toe sal kom nie. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel tot 24 November.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters