Verlede jaar
Maats keer dat seun in dam sterwe
'n Seun is deur sy maats van verdrinking gered. Foto: Ter Ilustrasie  ~ 

GEORGE. – ’n Seun (11) se maats het sy lewe gered.

Siseko Mbingwana het Woensdagmiddag digby die All Bricks-plakkerskamp in Thembalethu langs ’n modderige dam voëltjies gejag en saam met sy maats gespeel.

In 2017 het ’n seun (12) in die einste dam verdrink.

Mbingwana en twee maats het later in die modderige water gaan swem. Terwyl hulle in die dam gespeel het, het Mbingwana in die moeilikheid beland. Sy vriende het gesien hy dryf na die middel van die dam, waar dit diep is.

Gevaar

Die vriende vertel hulle kon sien Mbingwana begin sukkel om kop bo water te hou en het hom gaan help. Hulle het hom met moeite uit die water gekry, terwyl nog ’n vriendjie hulp gaan soek het.

Sandiso Sulwana, wat naby die dam woon, sê: “Die dam is ’n gevaar vir die kinders.”

Hy is net bly die vriende kon die seun uit die water kry.

Rdl. Sivuyile Dlikilili sê hulle konsulteer klaar met die munisipaliteit om ’n heining om die dam op te rig, asook om sekuriteitswagte daar te sit sodat die kinders nie daar kan ingaan nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters