3 maande gelede
Ma moes red toe kid skok by boks
ondersteuning: Klein Bulelwa Tarentaal en haar ouers, Cheney Tarentaal en Mbulelo Xaba. Foto’s: MPUMI KIVA  ~ 

OUDTSHOORN. – Inwoners van die GG Camp-plakkerskamp buite dié dorp sê ’n oop kragboks moet weggevat word, want dit hou ’n groot gevaar vir die gemeenskap in.

’n Meisietjie is onlangs by dié kragboks geskok.

Klein Bulelwa Tarentaal (4) is winkel toe gestuur. Sy het oor die elektriese drade van die kragboks geval en is só geskok. Bure moes die kind van die drade wegtrek.

Haar ma, Cheney Tarentaal (35), moes noodhulp op haar dogter toepas, want daar het skuim by Bulelwa se mond uitgekom.

Die ambulans het opgedaag en die kind hospitaal toe geneem.

Tarentaal sê sy kan nie glo sy het haar dogter gered nie.

“Sy het net daar gelê. Skuim het uit haar mond gekom, maar ek het aangehou met CPR totdat ek gesien het sy beweeg haar hand.”

Sy sê haar dogter het al voorheen alleen winkel toe gegaan.

“Ek was so bang sy gaan dood. Ek wil nie nou eens hê sy moet uit die huis uit gaan nie. Sy is ook nou bang om uit te gaan.”

Stadsraad

Mbulelo Xaba, klein Bulelwa se pa, sê die kragbokse is vir hulle ’n bron van kommer.

“Dis gevaarlik vir die kinders en vir ons almal. Ons gaan dadelik met die stadsraad oor die oop kragbokse praat.

“Die voorval is ’n wake-up call vir elke ouer. Die munisipaliteit moet die bokse verwyder.”

Xaba sê nóg mense gaan seerkry as dit nie uitgesorteer word nie.

’n Woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit sê daar is planne onderweg om krag en sanitasie vir formele en informele huise in te sit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters