2 maande gelede
Ma en kind moet sit, eis mense
Vies: Die skare buite die hof wil niks weet van bail vir die twee moordverdagtes nie. Foto: CLIVE PRETORIUS  ~ 

HEIDELBERG. – Die ma en dogter wat aangekla word van die moord op ’n middeljarige paartjie van Diepkloof het Dinsdag weer in die hof verskyn.

Die saak teen Sabina Hartnick (54) en Anne­marie Skietekat (31) is tot Maandag 11 Maart uit­gestel.

Albei beskuldigdes is reeds voorheen aan moord skuldig bevind en daarvoor gevonnis.

Hulle loop tans hof vir die moord op George “Jors” Michaels (62) en sy vriendin, Elizabeth “Elie” Rudolph (64). Hulle is die nag van Vrydag 15 Februarie in Michaels se huis in Diepkloof koelbloedig vermoor.

Nagenoeg 80 ontevrede inwoners het voor die hof saamgedrom ter ondersteuning van die slagoffers.

Ernstig

Hartnick en Skietekat het op 18 Februarie die eerste keer in die hof verskyn en toe weer die volgende week. Die twee het om regshulp aansoek gedoen.

Hartnick het ook Dinsdag verskyn op ’n vorige klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Michaels was tóé ook die slagoffer.

Vir dié aanklag is sy drie jaar tronkstraf opgelê. Die ma én dogter het tydens vonnisoplegging in trane uitgebars.

Die twee word in die Oudtshoorn-gevangenis aangehou.

Net soos met die laaste hofverskyning het ’n groep inwoners buite die hof met posters betoog.

Op die plakkate was slagspreuke soos “Moordenaars moet life kry” en “Weg met moordenaars”.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters