14 dae gelede
Ma en kind kom om in gru-botsing
Petronella ‘Mamie’Bush (59)  ~ Foto Verskaf

HEIDELBERG. – ’n Ma en seun het Vrydag op die N2 gesterf toe die motor waarin hulle op pad huis toe was teen ’n ander voertuig gebots het.

Petronella “Mamie” Bush (59) en Samuel “Marius” Bush (33) van Diepkloof het op die toneel, sowat 7 km buite Riversdal, gesterf.

Die ander drie insittendes is in die hospitaal in Riversdal opgeneem. Twee, onder wie Petronella se 17-jarige gestremde dogter, Candice, is Saterdagoggend ontslaan.

Die ander passasier, Henk Steeneberg, is weens ernstige beserings na die provinsiale hospitaal in George oorgeplaas.

Trompop

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, sê die ongeluk het omstreeks 23:00 gebeur. Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die ma en seun en nog drie insittendes in ’n Uno op pad was in die rigting van Heidelberg.

Die Uno het na bewering ’n vragmotor verbygesteek en trompop gebots teen ’n Opel Corsa wat in die rigting van Riversdal gery het.

Albei voertuie het die pad met die trefslag verlaat.

Marius het bestuur. Die bestuurder van die Corsa het ongedeerd daarvan afgekom.

’n Nadoodse ondersoek sal later gedoen word. ’n Klag van manslag word ondersoek.

Benewens Candice laat Petro­nella ook twee kleinkinders agter.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters