Verlede maand
Lyk gevind: Gesin kort hulp
Foto ter illustrasie. Foto: André Damons  ~ 

DRIE dae nadat die lyk van ’n jong vrou van George langs die spoorlyn gevind is, het haar familie haar oorskot uitgeken.

Die familie van Chané Manuel (23) van Parkdene was heeltemal onbewus daarvan dat sy in ’n lykshuis lê.

Dogtertjie

Sy’s na bewering eers verkrag voordat sy vermoor is.

Volgens Shaldene Davids, ’n familievriend, het Chané al vir drie maande nie meer by die huis gewoon nie.

Volgens Davids het sy op straat in die dorp gewoon en haar dogtertjie by haar ma, Rachel, gelos.

’n Woordvoerder van die polisie, kapt. Malcolm Pojie, het bevestig die polisie het op 17 September op Chané se lyk afgekom.

Volgens Pojie het cops van die George-polisiestasie die area gepatrolleer toe hulle twee verdagte mans langs die Nelson Mandela Boulevard naby Buco gewaar.

Die mans is deursoek en gesteelde goedere is in hul besit gekry, sê Pojie.

Vasgetrek

Pojie sê terwyl die mans aangekla is, het hulle met die sak patats vorendag gekom oor ’n lyk wat langs die spoorlyn lê.

Hy verduidelik: “By verdere ondersoek is daar op die halfnaakte liggaam van ’n vrou afgekom.”

Twee mans (18 en 23) is kort ná mekaar in die Thembalethu-plakkerskamp vasgetrek. Dit was ’n dag nadat Chané se familie haar oorskot in die lykshuis uitgeken het, sê Pojie.

Volgens Pojie sal die verdagtes binnekort op aanklagte van verkragting en moord in die hof verskyn.

Davids vertel dat hulle egter nou sukkel om Chané te begrawe oor haar ma nie finan­sieel in staat is om daarvoor te betaal nie.

Donasies

Sy sê: “Haar ma is in trane, want sy wil nie hê haar dogter moet so lank lê nie.”

Enigiemand wat die gesin met donasies vir Chané se begrafnis wil help, kan Davids by 074 899 4420 kontak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters