18 dae gelede
Life ‘te erg vir man wat kind verkrag’
Jean-Jacques Rooi van Nissenville sal binnekort sy lot hoor.  ~ Foto Verskaf

OUDTSHOORN. – Die vonnisoplegging van ’n man van Ladismith wat ’n sewejarige meisie anaal verkrag het, is Maandag in die streekhof tot volgende maand uitgestel.

Die 27-jarige Jean-Jacques Rooi van Nissenville, Ladi­smith, was 23 toe hy die kind op 2 April 2016 verkrag het.

Die staatsaanklaer, Bran­don Smith, het die hof gevra om Rooi lewenslank tronk toe te stuur omdat geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om van die voorgeskrewe vonnis af te wyk nie.

Rooi is aan een van die ernstigste misdade skuldig bevind en dit is nie die eerste keer dat hy ’n seksuele daad met ’n kind pleeg nie, is in die hof aangevoer.

Hy is ook in 2013 skuldig bevind aan ’n seksdaad met ’n minderjarige kind.

Volgens Smith slaap die kind (nou 11) steeds sleg. Sy kry nagmerries en spring soms in die nag uit haar bed.

Die kinders by die skool spot die slagoffer en sy is bang vir Rooi.

Kinderdae

Volgens Smith toon Rooi ’n neiging om kinders te teiken en dus het die tyd aangebreek dat kinders teen mense soos hy beskerm word.

Rooi se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het toegegee dat sy kliënt aan ’n baie ernstige misdryf skuldig bevind is en dit was moeilik om versagtende omstandighede te bewys.

Volgens hom het Rooi nie gelukkige kinderdae agter die rug nie.

Hy het nie sy biologiese pa geken nie en sy ma is reeds twee keer aan moord skuldig bevind.

Botha het die hof gevra om tog af te wyk van lewenslange gevangenisstraf omdat dit vir ’n jong man soos Rooi darem te erg sal wees.

Hy is ook reeds langer as nege maande in aanhouding.

Streeklanddros Sylvia Ma­ndla hoor die saak aan.

Die saak is tot 1 Desember uitgestel vir vonnisoplegging. Rooi bly in aanhouding.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters