Verlede maand
Lemmery was manslag – nie moord
 ~ 

OUDTSHOORN. – ’n Vrou wat haar lewensmaat met ’n mes in die nek gesteek het, wat tot sy dood gelei het, is Dinsdag in die streekhof onskuldig bevind op ’n klag van moord, maar skuldig bevind op ’n klag van strafbare manslag.

Die 35-jarige Daphne Dondas het erken sy het op 10 Junie 2018 vir Arnold Titus (34) in hulle huis in Black Joint, Bongolethu, gelem.

Dit het gebeur nadat hy haar herhaaldelik met ’n sambok geslaan en gedreig het om haar met ’n swaard te steek.

Sy het getuig dat sy Titus net een keer gesteek het, maar kon nie verduidelik hoe hy ’n tweede wond aan sy wang opgedoen het nie.

Streeklanddros Ntsokli Moni het in haar uitspraak gesê Dondas het die grense van selfverdediging oorskry en haar toe aan strafbare manslag skuldig bevind.

Sy het genoeg tyd gehad om te vlug toe haar lewensmaat sy sambok in die kamer gaan haal het.

En volgens haar eie getuienis het sy opgemerk dat die slot aan die ketting waarmee die deur toegemaak word, nie toegedruk was nie.

Sy het die sambok by haar lewensmaat gegryp, onder haar linkerarm vasgedruk en toe die mes op die tafel met haar regterhand gegryp en een keer na agter gesteek.

Haar regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof vir ’n opgeskorte of korrektiewe toesig vonnis gevra.

Die beskuldigde het wel ’n vorige veroordeling van diefstal in 2004 wat nie relevant is nie. Sy is dus eintlik ’n eerste oortreder. Vonnisoplegging is uitgestel tot 17 Mei.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters