3 maande gelede
Leerders skryf vir ’n beter SA
lief vir taal: Jonathan Jantjies (ATKV) en Leshmè Bosman, hoof van Amalienstein, by van die skool se leerders. Foto: KEITH MEYER  ~ 

ZOAR. – “Wat kan ék doen om ’n beter Suid-Afrika te bou?”

Dís die vraag waarmee die ATKV laerskoolleerders kom toets het.

Die leerders moes toe kreatiewe skryfwerk toepas en hulle gedagtes in ’n opstel vasvang.

Verskeie skole soos die Laerskool Amalienstein en Zoar EK se leerders het reeds ink op hulle papier gesit.

Laerskoolleerders se opstelle moet tussen 150 en 200 woorde wees.

Volgens Elmero Oosthuizen, ATKV-streekbestuurder, skenk die ATKV pryse om die leerders te motiveer. Dit sluit onder andere penne en skoolsakke ter waarde van minstens R500 in.

Steun

Christopher Paulse, een van die moontlike skrywers van die toekoms sê: “Ek skryf in my taal. My taal is my ma se Afrikaanse taal. Dit mag nie doodgaan nie.”

Jayzari Antonie skryf hy wil ’n veilige Suid-Afrika bou waar dit goed gaan met almal.

Leshmè Bosman, hoof van die Laerskool Amalienstein, steun die ATKV se program.

Bosman sê: “Die leerders en die opvoeders is opgewonde en dankbaar vir die poging om leerders aan die skryf te kry en aan die skryf te hou.

“Dis ’n baie relevante onderwerp in die tyd waarin ons verkeer. Dit strook met die waardes van ons skool, wat ’n waardegedrewe skool is.”

Jonathan Jantjies, plaaslike ATKV- verteenwoordiger voeg by die ATKV borg die program.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters