13 dae gelede
Leerders kan nie by skole kom
Skole in Mosselbaai het 'n tekort aan vervoer.  ~ Foto ter illustrasie

SKOLE in Mosselbaai in die Suid-Kaap het ’n tekort aan vervoer vir leerders.

Die situasie is na bewering so erg dat sommige kinders die skool gelos het.

Margaret Benjamin, woordvoerder van die Valley View Development Forum, ’n organisasie sonder winsbejag, sê lede het al verskeie keer aan die Wes-Kaapse onderwys­departement (WKOD) geskryf rakende die vervoerprobleem.

Benjamin sê die areas van Ruiterbos, Brandwacht en Sonskynvallei word geraak.

Sy sê ondanks die e-posse wat hulle aan die WKOD geskryf het, is daar nog geen oplossing nie.

Sy voeg by: “Die probleem word vererger omdat die meerderheid van die leerders se ouers nie koshuisgelde kan bekostig nie.

“Die vervoerprobleem kom al aan sedert 2014 toe vervoer van die betrokke roetes onttrek is.

Aansoek

“Dis ’n baie groot uitdaging vir die grootste meerderheid van die landelike gemeenskap van Mosselbaai.

“Ruiterbos is 50 km vanaf die naaste skool, Brandwacht is 25 km vanaf die naaste skool en Sonskynvallei is 17 km vanaf die naaste skool,” verduidelik Benjamin.

Kerry Mauchline, woordvoerder van die WKOD, sê: “Die distrikskantoor bevestig daar is nie aansoek gedoen vir die vervoer van leerders uit die genoemde gebiede nie.

“Die ouers van ’n paar koshuisleerders het besluit om nie hul kinders terug te stuur koshuis toe nie en het eerder besluit om private daaglikse vervoer vir hul kinders te reël. Dit is hul eie keuse.

“Ouers wat senuweeagtig is oor Covid-19, kan aansoek doen vir ’n toegewing sodat hul kinders van die huis af kan leer.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters