17 dae gelede
Leë doodskiste maak kortpad creepy
gestrooi: Die kiste het almal aan die wonder. Foto: keith meyer  ~ 

DOODSKISTE by dosyne wat base soek.

Dit is wat inwoners van Bergsig in Calitzdorp soggens op pad werk toe nou begroet. Veral die inwoners wat ’n kort paadjie deur die veld vat.

Son op Sondag is gevat na die plek waar daar die mooiste doodskiste sommer buite gestrooi lê. Sommige is al verrinneweer deur wind en weer, maar daar was baie wat nog bruikbaar is.

Annie Radloff, ’n inwoner, sê: “Wie se doodskiste is dit? En waarom lê dit daar? Dis nogal grillerig om saans daar verby te loop. Ek is nie bang vir spoke nie, maar wys my iemand wat lief vir doodskiste is.”

Gekarwei

Van die kiste het binne in ’n geboutjie gelê waarvan die deur oop of weg is. Ander het met deksels en al buite gelê, kompleet asof dit gereed is om net ’n lyk daarin in ontvangs te neem.

Intussen het van die inwoners glo al van die kiste huis toe gekarwei.

“Net ingeval iemand weer sterf wat nie ’n kis kan bekostig nie, dan het hulle mos een,” het ’n vroutjie geskerts.

Son op Sondag het probeer vasstel aan wie die doodskiste behoort, maar diegene met wie ons gesels het, het net gelag en skouers opgetrek.

Kakie Willemse, bekende gesig en leier op die dorp, vat ’n raaiskoot: “Ek dink dit moes darem seker aan ’n doodsgenootskap of lyk-klub behoort het.

“Miskien bestaan die lyk-klub nie meer nie en het hulle nooit daardie doodskiste verkoop gekry nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters