17 dae gelede
Kraglyn eis jong kaptein
Aldo Esau FOTO VERSKAF  ~ 

SLANGRIVIER. – Die lewe van ’n jong sportman van hier het Maandagmiddag tragies geëindig toe hy doodgeskok is.

Aldo Esau (28), ’n werker van Sentraal-Suid Koöperasie (SSK), het gesterf terwyl hy voerpille gelaai het.

Volgens van sy kollegas het die voerpyp wat aan die vragmotor gekoppel is aan ’n oorhoofse kragkabel geraak.

’n Erg geskokte kollega, Francois Kistoor, vertel hulle was net klaar met middagete toe die ongeluk op Solderkraal gebeur het. Die plaas lê 25 km buite Swellendam.

Aldo se ma, Cathy Esau, het hartseer aan Son gesê sy betwyfel nie God se werke nie, maar haar seun se dood is vir haar en haar gesin ’n groot skok.

Sy sê: “Hy was ’n staatmaker en grapjas en net my engelkind. Ons gaan hom baie mis.”

Die baie vriendelike, beminde jong man het in sport presteer. Hy was die kaptein van die eerste span van die plaas­like rugbyklub, Arrows, en een van die groot uitblinkers.

Aldo laat sy ma, pa, Joseph Esau, sesjarige dogter, Aldonay Scholtz, twee susters en ’n broer agter.

Aangemeld

Alwyn Burger, HR-hoof, sê SSK betreur die verlies van dié ywerige, talentvolle kollega.

“Ons diepste simpatie gaan aan sy familie en vriende en die mense wat die afgelope vier jaar saam met hom gewerk het.

“Dit lyk na ’n fratsongeluk, maar dit is aangemeld.

“Ons wag dat die ondersoek afgehandel word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters