Verlede maand
Kliniek gereeld sonder pille
dilemma: Ouma Antjie Fourie met haar leë pilleboksie.Foto: KEITH MEYER  ~ 

CALITZDORP. – Toe ouma Antjie Fourie in die Oudtshoorn-hospitaal opgeneem is, het sy op beterskap gehoop.

Ouma Antjie, wat vir galsteeninfeksie behandel is, is ná behandeling uit die hospitaal ontslaan.

Maar dis in haar tuisdorp waar sy haar pille moes aanvul, waar sy weer van voor af siek geraak het.

Sy vertel: “Ek is die Maandag ontslaan. By die sonar-dokter het ek ’n brief gekry. Sy het gesê as my pille op is, moet ek net die brief na die kliniek toe neem, dan sal ek weer pille kry. Die Saterdag toe drink ek die laaste pil.”

Volgens ouma Antjie is sy die Maandag met die brief en die leë pilleboksie na die kliniek. Maar by die kliniek moes sy hoor daar is nie sulke pille nie.

Volgens inwoners het hulle ook al gesukkel om hul pille te kry. Hulle kla van die personeel sit eerder op hul selfone en speel as om mense se pille voortydig te bestel.

“Dan raak die personeel vir ’n mens kwaad as jy oor regte dinge praat. Ek moes my brief vat en Oudtshoorn toe ryloop om my pille daar te kry,” het ’n pasiënt, Dawid, gekla.

Nadia Ferreira, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, het by navraag gesê sy was in verbinding met ouma Antjie en dat die probleem uitgesorteer is.

Sy sê: “Dit was ’n voorskrif wat nie ’n herhaling getoon het nie. Ons raai die publiek aan om met die bestuur oor probleme te praat.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters