3 maande gelede
Killer vry: Pa ‘het weggekwyn’
Verslae: Daniel Loff en sy vrou, Katriena, het bly hoop op justice vir hulle vermoorde dogter. Foto’s: Keith Meyer  ~ 

CALITZDORP. – ’n Pa van hier is dood voordat sy agjarige kind se moordenaar gevang is.

Daniel Loff, (64) se wens – dat sy dogter se moordenaar opgespoor sal word voordat hy sterf – was hom toe nie beskore nie.

Loff se dogter, Charmaine Conradie (8), is byna tien jaar gelede in Calitzdorp vermoor. Boonop het haar kruis van haar graf verdwyn. Die familie wil die kruis graag oor die Paasnaweek vervang.

Conradie en ’n maatjie het op die moorddag in 2008 naby die tiep gespeel.

Hoewel verskeie verdagtes aangehou en ondervra is, is niemand ooit vir haar moord aangekeer nie.

Verlede jaar in Julie het Loff nog gesê: “Met die onlangse arrestasie van die man wat (na bewering) vier meisies verkrag en pornografiese materiaal in sy besit gehad het, het ek so gehoop my Charmainetjie se saak sal ook weer aandag kry.

“Daai man was een van die laastes wat my kind lewend gesien het. Boonop was hy tóé ook ’n verdagte.”

Loff is einde Maart weens siekte dood.

Sy weduwee, Katriena, treur erg oor haar man en haar kind, wat haar hart se punt was.

“Ek en Daantjie was 25 jaar saam. Sedert 2008 het nie ’n dag omgegaan dat ons nie gehoop het ’n speurder kom klop aan ons deur om te sê Charmainetjie se moordenaar is gevang nie. Daantjie het weggekwyn omdat dit sy hart se begeerte was om berusting te vind.”

Kakie Willemse, ’n gemeenskapswerker, sê sy hoop Ernusta Maralack van die program Op Seer Se Spoor wil die saak verder vat.

“Dan sal die moordenaar uitkom. Die gemeenskap weet, maar is bang om te praat. En die polisie bied nie beskerming vir mense wat wil praat nie.

“Ons hoop hulle sal weer die saak oopmaak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters