14 dae gelede
Kerkman kry 40 j. vir rapes
court gavel
Freddy Jaftha is 'n swaar straf opgelê.  ~ Argief

OUDTSHOORN. – ’n Geestelike leier van Dysselsdorp is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir 40 jaar mang toe gepos.

Freddy Jaftha (50) is skuldig bevind aan die verkragting van ’n tweeling (toe 16) in sy kerk. Die dade is in 2017 en 2018 gepleeg.

Die hof het Jaftha en sy vrou se getuienis as leuenagtig verwerp.

Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het gesê die belang van die gemeenskap kom sterk na vore en die slagoffers het vir die vonnisverrigtinge hof toe gekom om berusting te kry.

Verswarend is dat Jaftha hul geestelike leier was en sy vertrouensposisie misbruik het. Die trauma spook nog by hulle.

Wreedste

Adv. Stephan Lourens, vir Jaftha, het die hof versoek om in ag te neem dat hy nie ’n baie gesonde persoon is nie en sy gesin se enigste broodwinner is.

Hy is nie meer jonk nie en dit was ook nie die wreedste verkragting nie.

Streeklanddros Daniel Boks het by vonnisoplegging gesê dis skokkend dat ’n pastoor dié dade gepleeg en elke keer gesê het dis die Here se wil.

In hul impakverslae sê die susters hulle sou nooit kon gedink het dat hulle hul maagdelikheid op dié manier sou verloor nie.

Jaftha toon geen berou nie, terwyl die twee susters deur geweldige trauma gegaan en die een selfs aan selfmoord gedink het.

“Die hof moet met die vonnis ’n boodskap uitstuur dat dié soort misdade swaar gestraf sal word.

Beserings

“Die wreedheid en afskuwelikheid teenoor kinders en vroue is onaanvaarbaar. Die oortreders moet gepas en effektief gestraf word.”

Oor die gebrek aan fisieke beserings het Boks gesê dit het ’n totale wanpersepsie geword.

“Verkragting is ’n kanker in ons gemeenskap.”

Die hof het wel afgewyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf.

Jaftha is 15 jaar gevangenisstraf opgelê op die klagte dat hy die een suster met sy vingers gepenetreer het en 25 jaar omdat hy die ander suster met sy penis en vingers gepenetreer het.

Die hof het ook gelas sy naam moet in die nasionale register vir seksoortreders opgeskryf word.

Die tweeling se pa is tevrede met die vonnis.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters